Die plaas se naam

Posted on Wed May 26, 2021.

Oorspronklik was die plaas se naam eers “Kliprivier”, genoem na die rivier wat daar vloei. Maar nadat ’n geweldadige Khoi-groep ’n San-vrou wat beeste vir een van die vroeëre geslagte Kotzé’s opgepas het, in die veld vermoor het, het die boer besluit om die plaaswerf te verskuif na waar die huidige postal vandag is. Net ’n entjie verder was daar ’n laagte wat ’n natuurlike oopte in die bossieveld (taai- en kraaibosse) gevorm het, en bekend gestaan het as “Willem se riviertjie”. Vandaar die plaasnaam vandag.

Teen skemeraand op die dag van die moord, toe dit tyd word dat die San-vrou die beeste moes kraal toe bring vir die nag, het sy en die beeste nooit opgedaag nie. Boer Kotzé het begin onraad vermoed, sy perd opgesaal en gaan ondersoek instel. Tot groot ontsteltenis kom hy toe af op die vrou se liggaam, waarvan haar kop afgesny is, en van sy trop beeste was daar geen teken nie.

Hy het die bure in kennis gestel en ‘n soekgeselskap is op die been gebring. Die boere het in die omgewing van Van Zyl’s-kop die Khoi-groep opgemerk. Maar dit was alreeds sterk skemer en daar is besluit om tot die volgende oggend te wag voordat hulle die groep sou konfronteer.

Vroeg die volgende môre het die boere begin om op die Khoi te skiet, en in die proses is een van die boere met ’n pyl in die been raakgeskiet. Uiteindelik het die boere die oorhand gekry. Al die Khoi is volgens oorlewering doodgeskiet en die hele beestrop is teruggevind.