Plaas kom in Kotzé besit

Posted on Wed May 26, 2021.

In die vroeë 1800’s het ’n weduwee Carstens met vier dogters op Willemsrivier gewoon. Twee van hulle was ’n tweeling. Agter die werf na die fontein se kant toe, was daar vier dennebome in ’n ry geplant wat die dogters gesimboliseer het. Vandag is daar slegs oorblyfsels van dié reuse bome nog te sien.

Die eerste Kotzé’s op Willemsrivier was oorspronklik van Aurora in die Sandveld, langs die Weskus. Volgens oorlewing was hulle van ’n familie met nege kinders waarvan drie na Nieuwoudtville se omgewing gekom het. Twee van die jong mans het met twee van die weduwee Carstens se dogters in huwelik getree. In 1832 het die weduwee die grond op haar Kotzé-skoonseuns se name oorgedra. Die stamnaam van die Kotzé’s, Johannes Paulus, is afkomstig van hierdie Carstens-familie. Willemsrivier is al vir ongeveer 180 jaar in die Kotzé’s se besit.