Plaas-toerisme

Ligging

Die afstand van Kaapstad na Nieuwoudtville is 350 km en van Upington is dit 480 km. Kapenaars neem die N7 verby Piketberg, Klawer en draai regs by Vanrhynsdorp. Ry tot by Nieuwoudtville en draai dan links na Loeriesfontein. Neem die eerste pad links by Grasberg (’n grondpad). Die plaas is die eerste een op linkerkant. Van Upington ry jy deur Kenhardt, Brandvlei, Calvinia en dan Nieuwoudtville. Hier draai jy regs na Loeriesfontein en neem die eerste pad links by Grasberg - dis ’n grondpad. Willemsrivier is die eerste plaas op linkerkant. Kaart
Koördinate -31.346707, 19.088976

Geografie

Willemsrivier lê op die Bokveld-platorand (950 meter bo seevlak). Nieuwoudtville is bekend vir sy unieke plantegroei en verskillende grondsoorte, met die grootste verskeidenheid van inheemse bolgewasse in die wêreld. Die winterseisoen het ’n koue klimaat met reën en ysige temperature en dan weer ’n warm somer met hoë temperature. Die beste tye om op Willemsrivier te kuier is in die herfs, winter en lente. Blomme is seisoenaal: April (kandelaar-lelies), Mei (kokerbome in blomseisoen) August, September (lente-blomme) en bolplante in Oktober.

Op die plaas

Historiese geboue sluit in: BoetaPaul, OumaMiemie, Blomhuis, Peperboom, Gletser and JoodseWinkel. Al die geboue is opgeknap en word aangebied as verblyf. Historiese geboue wat besigtig kan word, sluit in: Die ou kerk, ou skool, ou tronk en die Smuts/Maritz Kantoor.
’n Besoek aan die ou grafte is ’n móét, sowel as die fontein en ou trekkers. Aangesien dit ’n werkende skaapplaas is, is skaapskeer in Augustus en in die herfs ’n baie besige tyd. Ander aantreklikhede is die 4x4-roetes, stap-, en seisoenale blomroetes sowel as ’n besoek aan Ouplaas vir die sandklip-ruïnes. Die blommeseisoen is in Augustus en September met bolgewasse in Oktober.

Geskiedenis van Willemsrivier

Willemsrivier dateer terug na 1745 met ou historiese geboue in twee rye wat ’n breë hoofpad op die tradisionele “vierkant” vorm, naby ’n meerjarige fontein wat water aan die plaas verskaf. Die plaas is reeds sedert 1832 in die Kotze’s se besit.
Die oudste geboue sluit in: Die Smutz/Maritz Kantoor, ou skool, ou tronk en ’n lang huis. Ander geboue sluit in die Joodse Winkel sowel as die McGregor-huis. Daar is ook ’n ou “hulp”-kerk wat terug dateer na 1875. Die trapvloer en begraafplaas is ook ’n besoek werd.

4x4-roetes

Verskeie 4x4-roetes is gevestig en is in die proses om gegradeer te word. Gebruik hierdie roetes op eie risiko met 4x4-voertuie. Voertuie kan ook by Willemsrivier gehuur word. Toergidse is ook beskikbaar op aanvraag. Daar is vier verskillende roetes beskikbaar naamlik: Rooigrond, Oshoek, Die Muur en Kromhoek. Meer inligting is op versoek hieroor beskikbaar. Roetes kan tussen twee ure tot twee dae neem afhangende van ervaring en die tyd beskikbaar. Selfsorg-verblyf is beskikbaar by Willemsrivier. ’n Ander opsie is om by die “trapvloer” - wat eersdaags opgeknap gaan word - te gaan kamp. Kampering op die 4x4-roetes self kan vir natuurliefhebbers gereël word.

Staproetes op Willemsrivier

Daar is verskillende staproetes op Willemsrivier en in die naby omgewing. Bring stapskoene, ’n kamera en neem vars water saam. Elke staproete kan geïdentifiseer word met ’n kaart, afstand en die bepaalde tyd wat dit neem om te voltooi. Interessante inligting, byvoorbeeld oor die geskiedenis, is ook oor elke roete beskikbaar. Te sien op staproetes: 'n verruklike blomparadys in blomtyd, die talle interessante historiese geboue op die plaas, die grootste verskeidenheid inheemse bolplante in die wêreld, die omliggende plase en plaasaktiwiteite soos skaapskeer in Februarie en Augustus.

Blomroete

Die skouspel van die jaarlikse blomseisoen is op sy mooiste hier op Willemsrivier. Duisende verskillende blom spesies lê elke jaar en wag om te sien wat die weer gaan doen. Dus, elke jaar, tussen Julie en Oktober, is daar ‘n ander formule en ‘n ander verskeidenheid blomme (elke jaar uniek). Die blomprag op die plaas en omgewing kan ook op die stap- en bergfietsroetes gesien word. Besoekers het ten minste twee of drie dae nodig om volle prag van die blomtapyte in te neem. Op Willemsrivier is daar ook verskeie unieke blomspesies wat net hier gevind word.

Bergfietsroetes

Daar is twee 4x4 of bergfietsroetes. Die een noem hulle OsHoek - wat naby OuPlaas is - en die ander een is die Rooigrond-roete. Die Rooigrond-roete is pragtig en lyk soos 'n reus se speelgrond vanweë die skouspelagtige rotsformasies. Die OsHoek-roete is meet uitdagens en net vir die avontuurlustiges! Geniet die pragtige natuurskoon en die vars Namakwaland plaaslug terwyl jy die heuwels aandurf.

Ouplaas

Geen besoek aan Willemsrivier is voltooi sonder ’n besoek aan Ouplaas nie. Ouplaas was oorspronklik een van die 5 vierkant-plase. Hier kan besoekers verskeie interessante ou sandsteen-ruïnes sien. ’n Kamera en loopskoene is ’n moet. Ouplaas is nie ver van Willemsrivier nie - dis op die Grasberg-pad, ’n grondpad wat met ’n gewone motor gery kan word. Jy kan Ouplaas ook besoek te perd, met fietse en motorfietse of jy kan daarheen stap. Ouplaas is 13 km van Nieuwoudtville.