Willemsrivier se fontein

Posted on Wed May 26, 2021.

Die verdeling van die vierkant van Willemsrivier het in 1939 plaasgevind. Saam met hierdie verdeling is ’n kontrak opgestel wat die verdeling van die water van die fontein bepaal het. Daar was vyf eienaars, Die Kotzé’s het 22 morg besit, die drie Louw’s het ’n gedeelte besit, en ook die McGregors. Die ander twee eienaars is nie bekend nie.

Die vierkant, wat gedeelte 9 van Kliprivier is, was 44 morg groot. Die grootte van elke eienaar se deel van die vierkant, het bepaal hoeveel water hy uit die fontein mag gebruik.

Die oog van die fontein, ongeveer 500 m vanaf die plaaswerf, is met ‘n muurtjie omring waarop ’n groot metaaldeksel pas. Aangrensend hieraan is vyf reghoekige afskortings aangebou waarin die water oorvloei uit die fontein. Die kontrak het bepaal dat slegs die water wat uit die fontein in die vyf afskortings oorvloei, gebruik mag word. Dit het verhoed dat die fontein oorbenut sou word en die water dalk te min sal wees.

Die verskil in die hoeveelheid water wat elkeen mag gebruik, is egter by die oorvloei na die vyf  afskortings bepaal. ’n Ingenieur het ‘n koperplaat ontwerp met vyf verskillende groottes openinge wat die oorvloei van water na die verskillende afskortings reguleer volgens die grootte van elke eienaar se gedeelte van die vierkant. Hoe groter jou gedeelte van die vierkant, hoe meer water kon na jou kant oorvloei.  Die oorspronklike koperplaat is vandag nog daar. Saam met die koperplaat, is dit ook ’n “veiligheidsmeganisme” aangebring wat verseker het dat elkeen sy deel van die fonteinwater kon toesluit.

Aan die buitekant van elke afskorting, redelik laag, was ’n pyp waar die water uitgelei is. Al die huishoudings op Willemsrivier het hul water uit die fontein gekry. Dit was veral die werk van die jong kinders en bruinmense om die water met emmers na die werf aan te dra. Die water is in houtbalies in die voorhuis of kombuis gehou om te verseker dat dit skoon en koel bly. Nadat die houtbalies volgedra is, is nog twee emmers water langs die balies staangemaak om te verseker dat die water genoeg sal wees tot die volgende dag.

Tot vandag word alle water op die plaas uit die fontein onttrek. Pypleidings is aangelê en windpompe word gebruik om die water na al die wonings op die werf te pomp.