Boererate

Posted on Wed May 26, 2021.

Vir verkoue en griep is veral sinkpynspesifiek gebruik. Dit het die siek persoon goed laat sweet. Staaldruppels help om erge bloeding te stop by ’n wond. Friar’s Balsem is op seerplekke gesit om dit droog te maak en ook om ’n kroepbors oop te stoom. Balsemkopiva is “sommer vir al wat pyn is gebruik”. Indien jy ’n tand het wat pyn, kan jy ’n naeltjie of brandewyn vir die tandpyn gebruik.

Onder in die Kloof het ‘n mnr. Jordaan gewoon wat ook heelwat van boererate geweet het. Toe Willempie (4 jaar oud) se brongitis na longontsteking omgesit het, is mnr. Jordaan na Willemsrivier laat kom, want die naaste dokter was op Vanrhynsdorp. Hy het ‘n kat kopaf gesny en daarna afgeslag. Toe is die afgeslagte kat agter op Willempie se blaaie gesit om te kyk of dit nie die longontsteking wou laat opklaar nie. Maar soos ons vandag weet, was al wat regtig sou help, die regte dosis antibiotika.

Gedurende daardie Septembermaand het dit só baie gereën dat die lykie eers vir ‘n volle week by Oupa Theunis en ouma Miemie in die huis moes lê voor die begrafnis op die dorp gehou kon word. Dit was ‘n geweldige traumatiese tyd vir almal op die plaas. Die rede hoekom Willempie nie op Willemsrivier begrawe is nie, was dat die familie reeds in die proses was om daardie stuk grond waarop die familie-kerkhof was, te verloor.